Kontak sporte gee dikwels daartoe aanleiding dat die spelers daarvan ernstig beseer word. Kan iemand aanspreeklik gehou word vir hierdie beserings, of neem jy, as deelnemer, inherent die risiko wanneer jy aan hierdie sportsoorte deelneem. Die regspraak het egter belangrike beginsels is vasgestel met verwysing na die bogenoemde kwessie. Eerstens is dit belangrik om deeglik bewus te wees van die betrokke sportsoort se reëls, wat toelaatbaar is, al dan nie, alvorens jy aan die sportsoort deelneem.
Wanneer jy aan ʼn sport deelneem, stem jy in tot die moontlikheid van beserings? In die 2012-Appèlhofsaak van Hattingh v Roux, is hierdie stelling oorweeg. In hierdie saak het die appellant die respondent ernstig beseer deur gebruik te maak van ʼn skrum tegniek, die jack-knife.
Die Appèlhofregter, Plasket, het ten gunste van die respondent beslis. In die uitspraak is daar beslis dat die appellant opsetlik die respondent beseer het en dat sy aksies as onregmatig beskou moet word. Die regsbeginsel van Volenti Non Fit Iniuria, of die toestemming tot potensiële skade, sou onder normale omstandighede ʼn persoon beskerm wat iemand in ʼn sportwedstryd beseer, maar die regsbeginsel (Volenti Non Fit Iniuria) geld slegs waar die besering plaasvind onder normale omstandighede gedurende ʼn wedstryd.
Regter Plasket het gesê dat: “Eerstens was die jack-knife beweging wat deur Alex uitgevoer is in teenstelling met die reëls van die wedstryd. Verder was die beweging ook in teenstelling met die gees en die konvensies van die sport. Tweedens was die beweging ook vooruitbeplan, en was dit dus doelbewus uitgevoer. Derdens, alhoewel een van die doelwitte was om veld te wen met die skrum, was ʼn definitiewe oorweging ook om die opposisie te intimideer, spesifiek Ryan. Dit was ook uiters gevaarlik.”[1]
Plasket AJ gaan verder:
“aangesien hierdie optrede aanleiding gegee het tot so ʼn ernstige oortreding van die reëls, kan dit nie as die norm beskou word vir ʼn gewone rugby wedstryd nie, en is dit ongelooflik gevaarlik. It would not have constituted conduct which rugby players would accept as part and parcel of the normal risks.”[2]
Dit blyk duidelik vanuit hierdie uitspraak dat die hoofkwessie om te oorweeg wanneer daar geëvalueer word of ʼn persoon aanspreeklik gehou kan word ʼn ernstige besering in ʼn kontaksport, die vraag is of die besering plaasgevind het in die normale gang van die wedstryd.
Appelregter Brand, het in In alternatiewe uitspraak die volgende stelling gemaak:
“I believe that conduct which constitutes a flagrant contravention of the rules of rugby and which is aimed at causing serious injury or which is accompanied by full awareness that serious injury may ensue, will be regarded as wrongful and hence attract legal liability for the resulting harm”.[3]
Daar word gestel dat waar ʼn aksie van so aard is dat dit ʼn blatante oortreding van die reëls van die spel is, die speler homself met die nagevolge van die oortreding konsolideer en opsetlik voortgaan met die handeling, behoort die speler aanspreeklik gehou te word vir sy aksies. Dit is belangrik dat die betekenis van hierdie stelling nie is dat enige besering wat voortspruit uit die oortreding van ʼn reël met regsgevolge gepaard moet gaan nie, maar slegs gevalle wat so ernstig en blatant is, dat dit wel nodig is.
Dit sou ʼn onnodige las plaas op ʼn speler om nie enige reël te verbreek nie, uit die vrees dat ʼn speler in die ander span beseer kan raak en dat regsgevolge daaruit mag spruit. Dink jou in dat ʼn rugbyspeler deliktueer aanspreeklik gehou word vir die feit dat hy van sy voete af gegaan het by ʼn losgemaal, ʼn algemene fout in rugby. Die beredenering agter die Roux-uitspraak, is bloot dat waar ʼn speler opsetlik en blatant die reëls van die spel verbreek en weet dat die oortreding ernstige beserings kan veroorsaak, kan die speler aanspreeklik gehou word.
Daar is dus geen rede om die manier waarop daar ʼn aan ʼn sport deelgeneem word, aan te pas bloot uit die vrees van regsgevolge nie. Wees egter bewus van die feit dat kwaadwillige aksies op die sportveld ernstige gevolge mag hê
Bibliografie
Artikels
Labuschagne JMT “Straf- en Delikregtelike Aanspreeklikheid vir Sportbeserings” Stell LR 1998 1 72
Regspraak
Roux v Hattingh 2012 (6) SA 428 (SCA)
[1] Roux v Hattingh 2012 (6) SA 428 (SCA) at Par27
[2] Roux v Hattingh 2012 (6) SA 428 (SCA) at Par28
[3] Labuschagne JMT “Straf- en Delikregtelike Aanspreeklikheid vir Sportbeserings” Stell LR 1998 1 72 78
Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)