Right of a domestic worker to a Christmas bonus
April 6, 2016
Who are occupiers in terms of the EST act and why are they excluded from the ambit of the PIE act?
April 6, 2016

Die toepassing van die talem qualem-reël

Wanneer ‘n dader ‘n slagoffer skade aandoen, gebeur dit soms dat die slagoffer meer skade ly as wat ‘n mens sou verwag. Dit mag veroorsaak word deur die feit dat die slagoffer homself in spesifieke omstandighede bevind, wat daartoe lei dat die slagoffer as gevolg daarvan meer skade ly as die gemiddelde persoon. Sal hierdie ‘n aanvaarbare verweer wees vir die dader, of moet die omstandighede van die eiser geïgnoreer word?

 ‘n Voorbeeld van die bogenoemde geval is waar die eiser hom in so ‘n swak finansiële posisie bevind dat hy nie in staat is om sy skade te mitigeer nie.

Die saak van Smit v Abrahams 1994 (4) SA 158 (K) het oor hierdie kwessie gehandel en is steeds die voorste gesag met betrekking tot die bostaande vraagstuk. In die Smit-saak was die eiser betrokke in ‘n motorbotsing, waarin die voertuig wat hy besit het onherstelbaar beskadig is. Die eiser het nie net die markwaarde van die voertuig by die verweerder geëis nie, maar ook die koste vir die huur van ‘n voertuig vir ‘n 3 maande periode om te verseker dat hy kan voortgaan met sy besigheid. Die omvang van die eiser se skade was dus deels veroorsaak deur sy eie swak finansiële posisie, aangesien hy nie kon bekostig om ‘n vervangende motor te koop na die ongeluk nie. Hierdie tipe situasies word na verwys as sogenaamde eierskedelgevalle, waar die omstandighede van die eiser die omvang van sy skade beïnvloed. Oor die algemeen bepaal die talem qualem-reël, die regsbeginsel wat in hierdie gevalle toepaslik is, dat die verweerder nie die uitsonderlike kwesbaarheid van die eiser as ‘n verweer kan gebruik nie. Hierdie reël is gebaseer op die feit dat jy jou slagoffer vat soos wat jy hom kry.

In die hof se uitspraak word die eierskedel-vraagstuk bespreek as deel van die hof se ondersoek na juridiese kousaliteit. Daar word bevind dat daar nie ‘n rigiede benadering gevolg moet word wanneer die vraag oor juridiese kousaliteit beantwoord moet word nie, maar eerder ‘n soepel benadering. Hierdie soepel benadering moet gebaseer wees op redelikheid, billikheid en regverdigheid, en elke saak moet verhoor word gebaseer op sy eie feite. Die feit dat die eiser se skade deels deur sy eie finansiële kwesbaarheid veroorsaak is, is dus slegs een van die faktore wat in ag geneem moet word om te bepaal of die skade wat gely is verwant genoeg is aan die verweerder se handeling om dit aan hom toe te reken.

Daar word beslis dat, wanneer al die omstandighede in ag geneem word, die eiser wel geregtig was om ‘n vervangende motor te huur om hom in staat te stel om met sy besigheid voort te gaan en dat dit aan die kriteria van redelikheid, regverdigheid en billikheid voldoen. Aangesien die eiser nie na die ongeluk in ‘n finansiële posisie was om ‘n nuwe voertuig te koop nie, was dit as regverdig beskou dat die verweerder die koste moes dra vir die huur van ‘n vervangingsvoertuig.

In gevalle waar eierskedelgevalle beoordeel word, moet die hof beslis of dit billik en regverdig is om te beslis dat die skade wat gely is en spesifiek die omvang daarvan, veroorsaak was deur die verweerder se handeling.

Die talem qualem-reël, soos oorspronklik geformuleer, word dus nie direk toegepas in die Suid Afrikaanse reg nie. Die toepaslike regsbeginsel, naamlik dat die eiser se kwesbaarheid nie as ‘n aanvaarbare verweer beskou word nie, word as ‘n faktor oorweeg wanneer daar oor die element van kousaliteit beslis word.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)